top of page

ONS GEMEENTE ERFENIS

As gevolg van die herroeping van die Edik van Nantes deur Lodewyk X1V in 1685, is geloofsvryheid in Frankryk opgehef en moes duisende protestante aldaar hulle vaderland verlaat en elders ‘n nuwe tuiste gaan soek. Ongeveer 200 Franse Hugenote het gedurende die laaste ongeveer 12 jaar van die sewentiende eeu na Suidelike Afrika gekom waar hulle in die omgewing van die Stellenbosch en die huidige Franschhoek en Drakenstein (Paarl) gevestig is.

In 1691 het die Here XV11 verlof gegee en het die gemeente in daardie jaar tot stand gekom. Ds. Pierre Simond was die eerste leraar van die gemeente en het die bediening tot 1702 waargeneem.

Die eerste kerkgebou is in 1694 naby die plaas Babylonstoren in die omgewing van die huidige Simondium opgerig. Klaarblyklik was die Bolandse winterreën te erg en het die kerk spoedig in ‘n bouvallige toestand verval. Gevolglik is in 1717 besluit om die gebou te sloop. Die gemeente het dadelik aan die werk gespring en in 1720 is die nuwe kerk, wat teen ‘n koste van ongeveer R4 000 opgerig is, in gebruik geneem op die terrein waarop die huidige kerkgebou vandag staan.


Aan die einde van die agtiende eeu het dit duidelik geword dat die kerkgebou nie meer doeltreffend was nie. Aan die bekende Frans-gebore ingenieur en argitek, Thibault, is toe opdrag gegee om ‘n plan vir die nuwe kerkgebou te teken. Later is van die plan van Thibault afgesien, en in 1800 het ene ManhafteKüchler ‘n nuwe plan aan die kerkraad voorgelê. Dit was aanvaar. 

Die nuwe kerk sou in die vorm van ‘n Griekse kruis gebou word. Binnekant is die kerk die eenvoud self, terwyl die gewels aan die buitekant beskou word as van die mooiste in die land.

Aan die westergewel is die volgende treffende Latynse spreuk aangebring : “Sol justitiae illustra nos”. (“Die Son van geregtigheid bestraal ons”.) Op 20 April 1805 het die inwyding van die nuwe kerkgebou plaasgevind. Ds. Serrurier van Kaapstad het by dié geleentheid die inwydingsrede gevoer.


In 1824 is die kerk van 'n solder voorsien en is twee galerye met banke in die noorder- en suidervleuels aangebring. In die res van die kerk is daar van stoele gebruik gemaak. In 1852 is die kerk vergroot deur die muur tussen die kerk en die konsistorie te verwyder en 'n nuwe konsistorie aan dieselfde vleuel aan te bou. In 1878 is besluit om die stoele in die kerk met banke, wat tans in gebruik is, te vervang. In pas met die dinamiese huidige gemeente, is daar in 1994 die modernste oudiovisuele apparaat geïnstalleer.

ONS KERK GEBOUE

bottom of page