|
|
|
|
|
|
|
|
|
Geskiedenis |
Die
Preekstoel |
Die Orrel |
Klok &
Begrafplaas |
Pastorieë |
|
|
Geskiedenis
|
As gevolg van die herroeping van
die Edik van Nantes deur Lodewyk X1V in 1685, is
geloofsvryheid in Frankryk opgehef en moes duisende
Protestante aldaar hulle vaderland verlaat en elders
‘n nuwe tuiste gaan soek. Ongeveer 200 Franse
Hugenote het gedurende die laaste ongeveer 12 jaar van
die sewentiende eeu na Suidelike Afrika gekom waar
hulle in die omgewing van die Stellenbosch en die
huidige Franschhoek en Drakenstein (Paarl) gevestig
is.
In 1691 het die Here XV11 verlof gegee en het die
gemeente in daardie jaar tot stand gekom. Ds. Pierre
Simond was die eerste leraar van die gemeente en het
die bediening tot 1702 waargeneem. |
|
 |
|
Die eerste kerkgebou is in 1694
naby die plaas Babylonstoren in die omgewing van die
huidige Simondium opgerig. Klaarblyklik was die
Bolandse winterreën te erg en het die kerk spoedig in
‘n bouvallige toestand verval. Gevolglik is in 1717
besluit om die gebou te sloop. Die gemeente het
dadelik aan die werk gespring en in 1720 is die nuwe
kerk, wat teen ‘n koste van ongeveer R4 000 opgerig
is, in gebruik geneem op die terrein waarop die
huidige kerkgebou vandag staan.
Aan die einde van die agtiende eeu het dit duidelik
geword dat die kerkgebou nie meer doeltreffend was nie.
Aan die bekende Frans-gebore ingenieur en argitek
Thibault is toe opdrag gegee om ‘n plan vir die nuwe
kerkgebou te teken. Later is van die plan van
Thibault afgesien, en in 1800 het ene Manhafte Küchler
‘n nuwe plan aan die kerkraad voorgelê. Dit is
aanvaar.
Die nuwe kerk sou in die vorm van ‘n Griekse kruis
gebou word. Binnekant is die kerk die eenvoud self,
terwyl die gewels aan die buitekant beskou word as van
die mooiste in die land. |
|
 |
|
Aan
die westergewel is die volgende treffende Latynse
spreuk aangebring : “Sol justitiae illustra nos”.
(“Die Son van geregtigheid bestraal ons”.)
Op 20 April 1805 het die inwyding van die nuwe
kerkgebou plaasgevind. Ds. Serrurier van Kaapstad het
by dié geleentheid die inwydingsrede gevoer.
In
1824 is die kerk van
'n
solder voorsien en is twee galerye met banke in die
noorder- en suidervleuels aangebring. In die res van
die kerk is daar van stoele gebruik gemaak. In 1852
is die kerk vergroot deur die muur tussen die kerk en
die konsistorie te verwyder en
'n
nuwe konsistorie aan dieselfde vleuel aan te bou. In
1878 is besluit om die stoele in die kerk met banke,
wat tans in gebruik is, te vervang. In pas met die
dinamiese huidige gemeente, is daar in 1994 die
modernste oudiovisuele apparaat geïnstalleer. |
|
|
|
|
|